Baie welkom aan ondersteuners van geliefdes wat ly aan Bipolêre depressie

Baie welkom! As jy iemand ondersteun wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly, is jy by die regte plek. My wens is dat jy werklik sal baatvind by hierdie webblad.

Meeste mense wat hierdie webwerf besoek ken reeds uit eerstehandse ondervinding en baie naleeswerk die basiese inligting en kopkennis van wat Bipolêre Gemoedsversteuring is (ook bekend as Bipolêre Depressie en die Engelse benaming hiervan is: “Bipolar Depression” en “Bipolar Mood Disorder”).

Die hoofdoel met hierdie webwerf is egter om verby die koue en kliniese inligting te kom wat op die internet oral beskikbaar is, en die menslike sy, die hart en emosionele sy te deel uit die oogpunt van ‘n ondersteuner, van iemand wat elke dag saam met die siekte leef, maar wat self nie die siekte het nie. Ek wil graag praktiese raad gee oor hoe om sekere situasies te hanteer, hoe om emosioneel gerat te wees vir die uitdagings en eise wat die lewe saam met iemand wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly, te hanteer. Al kry ek dit net reg om jou te laat besef en te laat ervaar dat jy nie alleen hierdie stryd sty nie, sal dit vir my al genoeg wees.

My doel is nie om negatief te praat en ons Bipolêre geliefdes sleg te sê nie, want dit kan baie maklik die fokuspunt word waar Bipolêre ondersteuning bespreek word deur eggenote, lewensmaats, vriende, ouers en ander familie of kinders van Bipolêre persone. Die feit van die saak is dat dit vir jou as ondersteuner soms baie sleg, baie traumaties kan raak, dat jy self moed vir die lewe verloor en in jou eie donker depresiewe wolk wil versmoor.

Met die harde werklikheid van wat dit beteken om in ‘n verhouding met iemand te wees wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly is die doel van hierdie webwerf om jou moed in te praat.

Dit is belangrik om jou eie gemoed en jou eie gesondheid hoog op jou prioriteitslys te plaas as jy wil oorleef in ‘n Bipolêre wêreld. Want kom ons wees eerlik: al is jy nie die een wat aan die siekte ly nie, sal jy nooit kan wegkom uit jou eie Bipolêre wêreld nie. Hoe jy dit gaan bestuur kan ‘n enorme verskil in jou lewe maak, nee meer as dit: dit kan jou maak of breek. Jy moet beheer neem en nie toelaat dat dit wat die siekte aan jou geliefde doen, oorspoel na jou en jul verhouding nie. Dis makliker gesê as gedaan, maar dit is moontlik.

Hou gerus hierdie spasie dop vir verdere inligting. Stuur gerus ‘n e-pos as jy in kennis gestel wil word van nuwe artikels wat opgelaai word na info@bipolereondersteuning.co.za.

Insig en samewerking

Dit is so belangrik dat die persoon wat Bipolêr is, insig in sy/haar siekte en omstandighede het. Dit kan die lewe van die ondersteuner soveel makliker maak.

As jy sien jou geliefde tree op ‘n manier op wat vir jou rooi ligte laat flikker dat ‘n maniese fase oppad is, praat met hom/haar daaroor. As hy/sy insig in sy/haar siekte het, sal hul dadelik wil keer dat hul manies word.

Hul kan instem om dadelik hul dokter/psigiater te gaan sien wat tien teen een gaan voorstel dat sekere van die medikasies vir ‘n ruk lank verhoog moet word. Wanneer ‘n manie oppad is, sal medikasie wat manie teenwerk verhoog word. Dit is belangrik dat die regte medikasie aangepas word, want as in so ‘n geval ‘n anti-deprisant verhoog word, kan dit ‘n manie aanhelp! (‘n Anti-depresant lig jou OP en as jy te veel daarvan neem kan dit jou in ‘n maniese fase in help… Dit is hoekom mens nie vir ‘n Bipolêre mens net anti-depresante voorskryf nie, maar ook iets om manie teen te werk. Dit hang alles af van na watter kant die persoon toe neig [meer depressief of meer manies ens])

As ‘n mens al lank die Bipolêre pad stap, kan so iemand dalk self ‘n klein aanpassing in hul medikasie maak – die dosis bietjie verhoog vir ‘n rukkie. Maar ek beklemtoon dit dat mens moet weet wat jy doen en die regte medikasie aanpas. As ‘n mens kan en die Bipolêre persoon stem in daartoe, is dit goed om in so ‘n geval die dokter/psigiater te gaan sien.

Te goed om waar te wees?

As iets te goed is om waar te wees, dan is dit…

As dit vir ‘n lang ruk baie goed gaan, en dinge is net TE perfek en lekker in jou lewe, wees baie versigtig want ‘n Bipolêre bom lê om die draai gereed om in jou gesig te ontplof.

Moet nooit te gerus wees nie, jy sal ongelukkig altyd moet analiseer of daar iets aan die broei is en wat jy kan doen of nie moet doen nie om ‘n uitbarsting of trigger te verhoed.

Wat jammer is, is dat mens gewoonlik eers na die bom klaar ontplof het en jy kyk terug kan sien wat aan die kom was en die tekens dan kan herken. Mens moet maar hieruit leer en probeer om ‘n volgende keer meer gereed daarvoor te wees.

Reëls

Speel volgens die ongeskrewe reëls en daar sal vrede in jou huis wees, oortree die reëls en Bipolêre Hitler sal op jou losbars. Jy’s mos ‘n stout kind wat moet raaskry.

Weerstaan manipulasie

Dit is nie so maklik om manipulasie te weerstaan nie.

Jou Bipolêre geliefde kan soms op jou gevoel speel en sy/haar sin probeer kry. Dit kan wees dat hy/sy nie wil hê jy moet iewers heen gaan of ‘n geleentheid bywoon nie. Jy voel skuldig en bly maar eerder tuis. Hy/sy speel op jou gevoel en jy gee maar altyd toe om die vrede te bewaar. Tog net nie nog ‘n bipolêre uitbarsting nie….

Dalk is die manipulasie in jou geval heeltemal iets anders, maar dit kom daarop neer dat jy iets wil doen en jou geliefde wil jou keer. Of jy wil iets nie doen nie en jou geliefde verwag van jou om teen jou beterwete dit wel te doen.

My raad sou wees om op ‘n keer sterk te staan en die manipulasie te weerstaan. Bly maar kalm en tree volwasse op maar bly by jou besluit. As jy een maal die lyn getrek het en jou grense gestel het, sal die manipulasie karakter dalk ‘n volgende keer nie weer so maklik voor  jou kom staan nie.

Ek sê nie hiermee dat jy hard en ongevoelig moet wees nie. Jy as ondersteuner sal presies weet waarvan ek praat.

Laat weet my hoe jy manipulasie ervaar en wat jy daaromtrent doen en  hoe jy dit hanteer.

Emosionele aftakeling

Emosionele mishandeling/aftakeling is waaraan ‘n ondersteuner blootgestel word, soms in ‘n mindere en met tye weer in ‘n meerdere mate. Maar omdat ek hier wil fokus op die opbou en motivering van die ondersteuners, is dit nie my fokuspunt nie. Tog wil ek beklemtoon dat ek dit nie ontken nie.

In tye wanneer dit beter gaan, kan mens werklikwaar probeer fokus op die positiewe dinge, en daar is baie positiewe aspekte om in ‘n verhouding te wees met ‘n Bipolêre persoon. Ek is seker jy kan ‘n lang lys maak van al die goeie eienskappe en lekker tye en spesiale dinge in jul lewens saam.

Maar wanneer dit sleg gaan, gaan dit verskriklik, uiters sleg. Vir party van ons is slegte tye sinoniem aan ‘n maniese tydperk in ons geliefde se lewe, vir ander is depressie weer sinoniem aan slegte tye. Vir andere is dit ‘n konstante geveg teen negatiewe uitlatings van  jou geliefde, ‘n skerp tong en opmerkings en woorde wat aanhoudend afbreek altyd teenwoordig, en dit kan emosionele letsels op jou laat en jou emosioneel uitput oor ‘n lang aanhoudende tydperk.

Oorweldig

Soms oorweldig gedagtes aan Bipolêre Gemoedsversteuring my. Ek besef net weer dat dit soms baie gekompliseerd is. Juis die feit dat elke Bipolêre lyer so uniek is, en dinge anders ervaar en beleef. Dit is nie so eenvoudig nie, nie as mens emosioneel betrokke is nie… Dis veral moeilik om aan buitestaanders te verduidelik hoe dit is.

Elkeen van ons ken ons eie omstandighede as ondersteuners, maar ‘n ander Bipolêre persoon ervaar dinge en die lewe anders. Daar is soveel aspekte in ‘n Bipolêre persoon se lewe wat deur die siekte geraak word en ek besef net weer dat wanneer ‘n Bipolêre persoon alleen is, en nie mense het wat hom/haar verstaan en doelbewus ondersteun nie, dit soveel erger is.

Tuisblad logo onduidelik?

Indien die logo hierbo dalk nie goed vertoon op jou rekenaarskerm nie, probeer gerus Firefox of Google Chrome as “browser” om die die internet te bereik. Indien jy dit nog nie op jou rekenaar het nie, click op een van die skakels hieronder en laai dit af op jou rekenaar. Probeer gerus dan weer om hierdie webwerf te bereik wanneer jy die nuwe “browser” afgelaai het.

http://www.mozilla.com/

http://www.google.com/chrome