Archive for August 2011

Emosionele aftakeling

Emosionele mishandeling/aftakeling is waaraan ‘n ondersteuner blootgestel word, soms in ‘n mindere en met tye weer in ‘n meerdere mate. Maar omdat ek hier wil fokus op die opbou en motivering van die ondersteuners, is dit nie my fokuspunt nie. Tog wil ek beklemtoon dat ek dit nie ontken nie.

In tye wanneer dit beter gaan, kan mens werklikwaar probeer fokus op die positiewe dinge, en daar is baie positiewe aspekte om in ‘n verhouding te wees met ‘n Bipolêre persoon. Ek is seker jy kan ‘n lang lys maak van al die goeie eienskappe en lekker tye en spesiale dinge in jul lewens saam.

Maar wanneer dit sleg gaan, gaan dit verskriklik, uiters sleg. Vir party van ons is slegte tye sinoniem aan ‘n maniese tydperk in ons geliefde se lewe, vir ander is depressie weer sinoniem aan slegte tye. Vir andere is dit ‘n konstante geveg teen negatiewe uitlatings van  jou geliefde, ‘n skerp tong en opmerkings en woorde wat aanhoudend afbreek altyd teenwoordig, en dit kan emosionele letsels op jou laat en jou emosioneel uitput oor ‘n lang aanhoudende tydperk.

Oorweldig

Soms oorweldig gedagtes aan Bipolêre Gemoedsversteuring my. Ek besef net weer dat dit soms baie gekompliseerd is. Juis die feit dat elke Bipolêre lyer so uniek is, en dinge anders ervaar en beleef. Dit is nie so eenvoudig nie, nie as mens emosioneel betrokke is nie… Dis veral moeilik om aan buitestaanders te verduidelik hoe dit is.

Elkeen van ons ken ons eie omstandighede as ondersteuners, maar ‘n ander Bipolêre persoon ervaar dinge en die lewe anders. Daar is soveel aspekte in ‘n Bipolêre persoon se lewe wat deur die siekte geraak word en ek besef net weer dat wanneer ‘n Bipolêre persoon alleen is, en nie mense het wat hom/haar verstaan en doelbewus ondersteun nie, dit soveel erger is.