Arme ek

Dit gebeur soms dat jy jouself baie jammer kry omdat jy nou die ondersteuner is van iemand wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly. Buitestaanders kan jou laat voel dat dit VERSKRIKLIK is waardeur jy moet gaan. En kom ons draai nie doekies om nie, dit is nie ’n maklike taak nie. Maar kyk bietjie om jou en na baie van die seer in ander mense om jou. Elke mens het maar iets waarmee hy of sy moet saam leef, moet hanteer en die beste van moet  maak. Ja, dit is ’n unieke taak om iemand wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly te ondersteun, maar daar is baie ander mense wat deur ander dinge en ander siektes geraak word. Wat ek hierdeur wil probeer sê is dat ons onsself nie moet jammer kry en dalk in die  proses ons geliefde wil laat skuldig voel oor wat sy/haar siekte aan ons as ondersteuners doen nie. Hulle het nie gevra om Bipolêr te wees nie.

Jou uitkyk oor dit alles sal ’n groot verskil maak in hoe jy dinge hanteer en hoe jy oor die lewe oor die algemeen voel. As jy besef dat daar baie ander hartseer dinge is wat met ander mense ook gebeur en dat jy nie alleen sukkel om te verstaan hoe die lewe en die seer daarmee saam werk nie, sal jy dalk ’n ligter las kan dra en nie deur ’n donkerbril na die lewe kyk nie.

Daar is mense wat uitklim uit die Bipolêre boot, wat ’n verhouding beeindig, wat deur ’n egskeiding gaan as gevolg van die siekte, mense wat dalk besluit dat dit beter is om die rug te draai… Ek persoonlik, sal nooit ’n vinger na hulle wys nie, dis ’n persoonlike saak en niemand sal ooit weet wat presies hulle ervaar het en hoe hulle dit beleef het nie.

Daar is baie vrae wat ’n mens het in hierdie lewe, en een daarvan is verseker: Hoekom moet my geliefde aan hierdie siekte ly en hoekom moet ek saam so negatief daardeur geraak word? Ander mense het ook maar sulke vra maar wat werklik van belang is, is hoe jy jou sak sout gaan hanteer en benader. Jy kan of toelaat dat dit oor jou spoel en jou meesleur of jy kan ’n standpunt inneem om saam met jou geliefde te veg teen hierdie siekte en nie die handdoek in te gooi nie. Jy kan kies om jou soms te distansieer van die onmiddellike situasie en die groter prent te probeer raaksien.