Enigste steunpilaar vir ‘n kluisenaar?

Is jy dalk jou Bipolêre geliefde se enigste steunpilaar? Het hy/sy vriende behalwe jy? Voel jy soms oorweldig omdat daar ‘n groot verantwoordelikheid op jou skouers rus omdat jy as huweliksmaat, familielid of vriend die enigste werklike vriend van jou  Bipolêre vriend of geliefde is?

Baie kere word daar na mense wat ly aan  Bipolêre Gemoedsversteuring verwys as “kluisenaars”. Vir mense van buite lyk dit of die Bipolêre persoon nie iets met mense van buite te doene wil hê nie, hulle hou hulle skaars en reik nie uit na ander mense nie.

Maar jy wat saam met jou Bipolêre geliefde leef, weet van beter. Mense wat van te vore vriende of kennisse was van jou geliefde hou dalk ‘n afstand na ‘n vorige maniese fase waardeur jou geliefde gegaan het. Sulke vriende weet dalk nie hoe om die situasie te hanteer of hoe om die Bipolêre lyer te benader nie. Dalk het jou geliefde dinge kwyt geraak tydens ‘n maniese fase wat afstand gebring het of wat vriende verwar het en nou het hulle dalk nie die vrymoedigheid om weer kontak te maak nie. Of dalk gaan hulle maar net aan met hul eie lewe en jou geliefde ervaar dit as ergere verwerping deur sogenaamde vriende.

Jy as ondersteuner bly die enigste vertroueling van jou geliefde en in baie gevalle is jy regtig sy/haar enigste vriend.

Dit kan dalk, wanneer jy dit besef oorweldigend wees. Dalk maak dit jou benoud, dalk voel jy so hartseer dat jou lewensmaat nie vriende het behalwe jy nie.

Jy kan nie mense dwing om vriende met jou of met jou geliefde te wees nie. Mens voel ook nie altyd om te verduidelik dat jou geliefde dit so sal waardeer as vriende net weer van hulle kant af kontak maak nie (jy wil nie jou geliefde se vertroue in jou skend nie…) Dalk is dit juis wat jy moet doen, om iemand net weer op die spoor te sit en dalk te verduidelik of raad te gee van hoe hulle jou geliefde kan benader.