WIE WORD GERAAK?

In die heel eerste plek word die persoon wat aan die siekte ly erg geraak deur die feit dat hy/sy gediagnoseer is met Bipolêre Gemoedsversteuring.

Dit is iets wat ons as ondersteuners altyd moet onthou, want ‘n mens kan so fokus op jou eie emosies en seer wat jy as ondersteuner ervaar, dat mens soms perspektief kan verloor en nie altyd dink oor hoe erg dit vir jou geliefde moet wees om aan die siekte te ly en dit te aanvaar nie en om dag vir dag daarmee saam te leef binne hulself nie.

Dit is partykeer goed om net weer perspektief te kry en jouself vir ‘n oomblik te distansieer van die ommiddelikke situasie en te besef dat jou geliefde vasgevang is in ‘n siekte wat sekere gedrag veroorsaak.

In die tweede plek is dit die naby mense van die person wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring wat geraak word deur die siekte. Is dit jou broer of suster, jou ma of pa, ‘n oom of tannie, ‘n niggie of ‘n nefie, dalk is dit ‘n vriendin of vriend van jou, jou ou of meisie en helaas dalk is dit jou man of vrou saam met wie jy ‘n lewe deel wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring?

As ‘n mens nie verstaan wat Bipolêre Gemoedsversteuring is nie, sal dinge vir jou glad nie sin maak nie. ‘n Persoon vir wie jy lief is, tree vreemd op, anders as van te vore. Of dalk is die person maar nog altyd half anders en verstaan jy nie regtig wat met hom/haar aangaan nie.  Is hy/sy buierig, of dalk sku vir mense? Is daar sekere onderwerpe of mense wat sekere reaksies uitlok by jou geliefde, en voor jy jou kon kry het ‘n bom gebars en jy is nie regtig seker hoe jy jou te midde van dit alles bevind het nie?

Hierdie webwerf is dan juis gemik op die persone wat “indirek” geraak word deur Bipolêre Gemoedsversteuring van ‘n geliefde. Ek sit dit in aanhalingstekens want dit is eintlik ook maar direk wat jy geraak word deur die siekte, veral as jy baie na aan die persoon leef wat daaraan ly.