HOE RAAK DIT JOU AS ONDERSTEUNER?

Hoe diep die siekte jou raak, hang af van hoe naby jy daaraan leef, met ander woorde, hoe naby jy is aan die persoon wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring. As dit iemand is wat jy nie so baie sien nie en met wie jy nie so baie te doen het nie, gaan dit jou duidelik minder raak as iemand wat in dieselfde huis bly saam met ‘n lyer van Bipolêre Gemoedsversteuring.

‘n Broer of suster gaan die siekte anders beleef as ‘n eggenoot. ‘n Kind van ‘n ouer wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring sal dit anders beleef as iemand wat getroud is met ‘n lyer van die siekte.

Iemand wat groot geword het in ’n huis waar ’n ouer ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring, sal ’n ander uitkyk op die siekte hê as iemand wat verder weg staan van die siekte en dalk eers later in hul lewens met geliefdes te doen kry wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring.

’n Kind wat grootword in so ’n huis kan baie kere verward wees oor die optrede van hul ouer en dit is vir ’n kind moeilik om te verstaan dat ’n ouer so kan optree teenoor hulle. Dit kan letsels laat en so ’n kind kan dalk later in sy lewe baie negatief voel teenoor mense wat aan hierdie siekte ly of hulle dalk distansieer van enige iemand wat iets te doen het met die siekte.

Dalk kan dit die teenoorgestelde uitwerking hê, byvoorbeeld dat so ’n kind in sy volwasse lewe juis betrokke raak by die proses om ander mense in te lig oor wat die siekte behels en so ’n positiewe bydrae maak. Hoe dit ookal sy, dit kan nie maklik wees om in ‘n “Bipolêre huis” groot te word nie.

Ek skryf vanuit ‘n eggenoot en huweliksmaat perspektief, maar gaan ook probeer om die ander invalshoeke in ag te neem, soos byvoorbeeld diè van ‘n broer of diè van ‘n ouer of ‘n kind. Dit maak nie saak in watter verhouding (broer, ouer, kind, eggenoot) jy staan tot die persoon wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring nie, wat wel saak maak is hoe naby jy aan hom/haar leef.

Wat vir ‘n lyer van Bipolêre Gemoedsversteuring baie beteken is as daar mense is wat probeer verstaan, mense wat kontak hou ten spyte van baie dinge. Want wat in die werklikheid gebeur is dat baie mense eerder verkies om ‘n afstand te hou weg van die lyer van Bipolêre Gemoedsversteuring, omdat baie van hulle nie verstaan nie en nog baie meer wil nie verstaan of ‘n poging aanwend om te probeer verstaan nie.

Dit is menslik om eerder afstand te hou van dit wat jy nie verstaan nie of van dit wat nie regtig naby aan jou eie lyf is nie. Die meeste mense vind eers meer uit oor die siekte wanneer iemand in jou gesin daarmee gediagnoseer word. Dis makliker om die rug te draai veral in vandag se gejaagde lewe waar mense nie meer tyd het vir mekaar nie. Almal het goeie bedoelings en mooi woorde maar dis makliker om ‘n leë belofte te maak en dan net aan te gaan met jou besige lewe. Ons sien dit in elk geval vandag al hoe meer in “gewone” “vriendskappe” en soveel te meer ervaar die lyer van ’n gemoedsversteuring die verwerping van “vriende” en die gemeenskap net soveel erger.