RUS HULLE TOE

Dit is soms nodig om jou naby familie en vriende “op te lei” oor hoe om op te tree en wat om te vermy teenoor jou Bipolêre geliefde.

Mense kan soms onwetend, baie onsensitief en onbedagsaam wees teenoor jou Bipolêre geliefde en teenoor jou. Hulle kan dalk gesels oor dinge wat die Bipolêre persoon ontstel, of dinge wat die Bipolêre persoon kan “trigger” en jy as ondersteuner moet dan later die gevolge dra van hul ondeurdenkte woorde en aksies.

Ja, dit is ongelukkig so, dat dinge wat mense sê jou geliefde baie negatief kan beinvloed sodat hy/sy later sy/haar buie op jou uithaal. Onthou, Bipolêre Gemoedsversteuring loop baie nou saam met emosies en gemoed en ongelukkig tree jou geliefde soms nie reg en volwasse teenoor jou op nie.

As daar seker onderwerpe is wat die Bipolêre persoon ontstel en skade berokken aan sy/haar gemoed, moet jy dalk met die persoon wat die onderwerp aangeroer het, op ‘n latere stadium daaroor gesels en verduidelik dat julle in jul huishouding nie oor hierdie saak praat nie (as jy gemaklik is kan jy ook verduidelik hoekom jy hierdie onderwerp vermy) en dat jy dit sal waardeer as hulle jou geliefde in ag sal neem wanneer julle almal weer saam in ‘n geselskap is.

Wat belangrik is, is dat jy dit nie net sal los tot ‘n volgende keer nie. Deel jou kennis oor die siekte met mense wat saakmaak sodat julle almal saam daartoe kan bydra tot ‘n gesonder Bipolêre geliefde (en vrede in jou huis). As mense jou snaaks aankyk hieroor, verwys hul gerus na hierdie webwerf sodat hul meer kan leer oor wat Bipolêre Gemoedsversteuring is!

Hoekom sal ‘n mens oor en oor in die selfde slaggat trap, as mens kan leer om dit te vermy?

Ongelukkig moes ons ook al die keuse maak om sekere mense te vermy. Dit is ook nie altyd moontlik om vir mense te sê dat hul moet ophou praat oor sekere sake nie, veral as dit deel vorm van hul karakter.

Elke Bipolêre lyer is ‘n unieke mens en verskil van die volgende Bipolêre persoon. Daarom is dit baie moeilik om hier ‘n lys te maak van wat presies dit is wat so iemand kan ontstel en watter onderwerpe liefs vermy moet word.

Soms gaan dit nie net oor ‘n onderwerp wat in ‘n geselskap voorkom nie, dit kan ook iets wees soos geweld op TV, hetsy op die nuus of in ‘n fliek.

Geld en aardse rykdom is vir baie Bipolêre persone ‘n onderwerp wat probleme kan veroorsaak.

Beheptheid met geleerdheid en aansien in die samelewing, praatjies oor suksesvolle beroepsmense… wat ookal die dinge is wat jou geliefde nadelig kan beinvloed, vermy dit ten alle koste!

My raad aan vriende en familie wat werklik omgee vir die Bipolêre persoon in hul lewe is: gesels dalk met die huweliksmaat of naaste persoon aan die Bipolêre persoon hieroor en vind uit of jy dalk al in die verlede oor dige gepraat het wat liefs vermy moet word. Of vra wat is die dinge wat negatief sou kon inwerk. Raak deel van die oplossing en moenie deel van die probleem wees nie.

En aan die ander kant van die muntstuk moet jy ook jou Bipolêre geliefde “op lei” of eerder rigting probeer gee hieroor. Jy sal altyd maar die een wees wat perspektief op sake moet behou en probeer om dit oor te dra aan jou geliefde: “as sekere goed jou ontstel, vermy dit dan”

Ek hoor graag van ander ondersteuners wat die onderwerpe en dinge is wat hul Bipolêre geliefde negatief kan beinvloed. Maak gerus ‘n opmerking hieronder of stuur ‘n e-pos aan info@bipolereondersteuning.co.za