FOUTE WAT ONS MAAK

FOUTE WAT GEMAAK WORD DEUR ONDERSTEUNERS WAT VERMY MOET WORD

1.         Om te dink dis nie ‘n siekte nie

Die feit van die saak is: Bipolêre Gemoedsversteuring is ’n siekte. Dit is nie net iemand wat buierig is of iemand wat soms depressief is nie. DIS ’N SIEKTE. ’n Siekte het oorsake en gevolge en ook ’n behandelingsplan.

As ’n  mens besef en aanvaar dat dit ’n siekte is, help dit baie. Jy dink anders daaroor as jy aanvaar dat dit werklikwaar ’n siekte is.

’n Buitestaander het eenmaal vir my gesê dat ek nie moet sê dat dit ’n siekte is  nie. Ek voel  baie sterk daaroor dat as jy  nie by die punt gaan kom om te besef dat dit wel ’n siekte is nie, jy ’n moeiliker pad gaan loop as wat nodig is.

Baie kere gaan jy by ’n punt kom waar jy gaan vra: HOEKOM? En die enigste antwoord is: Dit is wat die siekte doen. Daar is nie ’n ander antwoord nie. As jy nie gaan aanvaar dat dit ’n siekte is nie, gaan jy nooit verstaan hoekom jou geliefde soms op ’n sekere manier optree nie. As jy en jou geliefde soms gesels en hy/sy vra of sê vir jou hy/sy weet net nie hoekom hy/sy dit of dat gedoen het nie, dan is jou antwoord: Dit is wat die siekte doen.

2.         Om te dink dit sal nie weer gebeur nie

Ek het eenmaal gelees van iemand wie se ma ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring dat hy sê dat hy hoop altyd vir die beste maar hy verwag altyd die ergste! Sy motto is:

“Hoping for the best but expecting the worst”.

Dit klink dalk baie negatief en swaarmoedig, maar eintlik is dit die beste manier om as ondersteuner die saak te benader.  Om altyd te onthou dit kan weer gebeur en dat jy op jou hoede moet wees te alle tye.

Om te dink ’n maniese fase of depressiewe fase sal nie weer gebeur nie, skiet jy jouself net daar in die voet. Mens is veral geneig om so te dink oor ’n maniese fase, dat dit nie weer sal gebeur nie.

Daar is baie dinge wat jy en jou geliefde kan doen om te probeer verhoed dat dit weer gebeur, maar daar is geen waarborge nie, juis omdat dit ’n siekte is. Ek is seker ’n mens kan met al jou voorsorgmaatreëls die maniese fases verminder, maar jy kan nooit seker wees dat dit nie weer sal plaasvind nie. Daarom dat jy altyd op jou hoede moet wees.

3.         Om nie altyd op jou hoede te wees nie

Veral na ’n maniese fase, is mens so bly dat dit verby is en so uitgeput dat jy net wil aangaan met jou “normale” lewe. Hier moet ’n mens daarteen waak om nie te vergeet dat dit weer kan gebeur nie. Dit is nie wat mens op hierdie tydstip wil hoor nie, maar gee jouself kans om te herstel en dan weer op jou hoede te wees.

4.         Dat jou geliefde nie op ‘n behandelingsplan is nie

Dit is katastrofies wanneer iemand wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly, nie vir een of ander vorm van behandeling gaan nie. Daar moet ’n plan in plek wees en deel daarvan is dat jou geliefde sekere dinge in
plek moet hê.

5.         Om die finansies oor te gee aan die bipolêre persoon

Een van die kenmerke van die maniese fase is dat die persoon baie spandabelrig met geld omgaan. As jou geliefde vrye toegang tot sy of haar spaargeld of jou geld het, kan jy voor jy jou oë uitvee niks oor hê nie of in groot skuld gedompel wees.

6.         Om dinge persoonlik op te neem

Dit is BAIE moeilik, maar jy moet leer om dinge nie persoonlik op te neem nie. Jy het soms ’n renostervel nodig om te keer dat die bipolêre pyle wat na jou kant gevuur word, nie jou hart deurboor nie.

7.         Om die las alleen te dra

’n Groot fout wat ondersteuners en veral huweliksmaats van bipolêre persone maak, is om met niemand te gesels nie, om al jou seer, bekommernisse en spanning vir jouself te hou. Op ’n ander plek wy ek meer hieroor uit .

8.         Om nie te weet wat die triggers is nie

Jy kan onbewustelik bydra tot uitbarstings of die ergste, jy kan dalk self die maniese fases aanhelp as jy nie weet wat jou geliefde se triggers is nie!

9.         Om nie ’n ogie te hou oor die medikasie nie

Hoe sal jy weet of dit reg gebruik word as jy nie weet hoe dit geneem moet word en of dit so geneem word nie?

10.       Om nie in beheer te wees van die medikasie aankope nie

Dalk dink jy dit is bietjie drasties? Elke persoon en situasie is anders. Hoe sal dit reg gebruik word as die regte hoeveelhede nie aangekoop word nie. Kan jy dit bekostig dat daar nie genoeg medikasie is nie? Daar kan baie redes wees hoekom die bipolêre persoon kan besluit om minder medikasie aan te koop: dalk wil hul geld spaar, dalk voel hul op daardie stadium dat die medikasie nie regtig nodig is nie.