Baie welkom aan ondersteuners van geliefdes wat ly aan Bipolêre depressie

Baie welkom! As jy iemand ondersteun wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly, is jy by die regte plek. My wens is dat jy werklik sal baatvind by hierdie webblad.

Meeste mense wat hierdie webwerf besoek ken reeds uit eerstehandse ondervinding en baie naleeswerk die basiese inligting en kopkennis van wat Bipolêre Gemoedsversteuring is (ook bekend as Bipolêre Depressie en die Engelse benaming hiervan is: “Bipolar Depression” en “Bipolar Mood Disorder”).

Die hoofdoel met hierdie webwerf is egter om verby die koue en kliniese inligting te kom wat op die internet oral beskikbaar is, en die menslike sy, die hart en emosionele sy te deel uit die oogpunt van ‘n ondersteuner, van iemand wat elke dag saam met die siekte leef, maar wat self nie die siekte het nie. Ek wil graag praktiese raad gee oor hoe om sekere situasies te hanteer, hoe om emosioneel gerat te wees vir die uitdagings en eise wat die lewe saam met iemand wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly, te hanteer. Al kry ek dit net reg om jou te laat besef en te laat ervaar dat jy nie alleen hierdie stryd sty nie, sal dit vir my al genoeg wees.

My doel is nie om negatief te praat en ons Bipolêre geliefdes sleg te sê nie, want dit kan baie maklik die fokuspunt word waar Bipolêre ondersteuning bespreek word deur eggenote, lewensmaats, vriende, ouers en ander familie of kinders van Bipolêre persone. Die feit van die saak is dat dit vir jou as ondersteuner soms baie sleg, baie traumaties kan raak, dat jy self moed vir die lewe verloor en in jou eie donker depresiewe wolk wil versmoor.

Met die harde werklikheid van wat dit beteken om in ‘n verhouding met iemand te wees wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly is die doel van hierdie webwerf om jou moed in te praat.

Dit is belangrik om jou eie gemoed en jou eie gesondheid hoog op jou prioriteitslys te plaas as jy wil oorleef in ‘n Bipolêre wêreld. Want kom ons wees eerlik: al is jy nie die een wat aan die siekte ly nie, sal jy nooit kan wegkom uit jou eie Bipolêre wêreld nie. Hoe jy dit gaan bestuur kan ‘n enorme verskil in jou lewe maak, nee meer as dit: dit kan jou maak of breek. Jy moet beheer neem en nie toelaat dat dit wat die siekte aan jou geliefde doen, oorspoel na jou en jul verhouding nie. Dis makliker gesê as gedaan, maar dit is moontlik.

Hou gerus hierdie spasie dop vir verdere inligting. Stuur gerus ‘n e-pos as jy in kennis gestel wil word van nuwe artikels wat opgelaai word na info@bipolereondersteuning.co.za.

Comments are closed.