Insig en samewerking

Dit is so belangrik dat die persoon wat Bipolêr is, insig in sy/haar siekte en omstandighede het. Dit kan die lewe van die ondersteuner soveel makliker maak.

As jy sien jou geliefde tree op ‘n manier op wat vir jou rooi ligte laat flikker dat ‘n maniese fase oppad is, praat met hom/haar daaroor. As hy/sy insig in sy/haar siekte het, sal hul dadelik wil keer dat hul manies word.

Hul kan instem om dadelik hul dokter/psigiater te gaan sien wat tien teen een gaan voorstel dat sekere van die medikasies vir ‘n ruk lank verhoog moet word. Wanneer ‘n manie oppad is, sal medikasie wat manie teenwerk verhoog word. Dit is belangrik dat die regte medikasie aangepas word, want as in so ‘n geval ‘n anti-deprisant verhoog word, kan dit ‘n manie aanhelp! (‘n Anti-depresant lig jou OP en as jy te veel daarvan neem kan dit jou in ‘n maniese fase in help… Dit is hoekom mens nie vir ‘n Bipolêre mens net anti-depresante voorskryf nie, maar ook iets om manie teen te werk. Dit hang alles af van na watter kant die persoon toe neig [meer depressief of meer manies ens])

As ‘n mens al lank die Bipolêre pad stap, kan so iemand dalk self ‘n klein aanpassing in hul medikasie maak – die dosis bietjie verhoog vir ‘n rukkie. Maar ek beklemtoon dit dat mens moet weet wat jy doen en die regte medikasie aanpas. As ‘n mens kan en die Bipolêre persoon stem in daartoe, is dit goed om in so ‘n geval die dokter/psigiater te gaan sien.

Comments are closed.