MANIES OF NIE?

Hierdie vraag kan nogal angswekkend wees: Is jou geliefde besig om manies te raak of nie?

Wanneer jul pas deur ’n maniese tyd is, sal jy saamstem dat jy so verlig is dat die maniese tydperk verby is, maar terselfde tyd is jy so bewus van hoe die manie nader gekruip het, dat jy tog net nooit weer bekruip wil word sonder dat jy dit sal agterkom nie of sal herken nie.

Of, soms kan ’n mens so oorweldig wees dat jy eintlik net wil rus en so dankbaar is dat als nou weer reg is, dat jy nie nog krag het om te dink aan hoe ons hier gekom het nie.

My raad sou wees om nie maar net weer aan te gaan nie, maar om diep te gaan nadink oor wat bygedra het tot die maniese fase. Wanneer jy weer wonder is dit nou manie of nie, sal jy kan terugdink of jou eie notas kan nagaan oor wat ’n vorige keer die tekens was dat ’n mansiese fase oppad was.

’n Mens loop die gevaar om vir elke dingetjie te dink dit is ’n teken dat ‘n maniese fase weer oppad is. As jy iets het om na terug te verwys van wat ’n vorige keer rooi ligte was, kan jy dit wat jy nou sien daarmee vergelyk en dit kan jou help om vas te stel of dit wat jy nou sien, wel tekens is van gevaar wat oppad is.

Ek stel voor jy kry ‘n notaboekie of open ‘n dokument op jou rekenaar waarin jy allerhande notas maak onder andere oor tekens wat al in die verlede daarop gedui het dat ‘n maniese fase in jou geliefde oppad is, of dinge wat aanleiding daartoe gegee het.