GESONDHEID OOR DIE ALGEMEEN EN IETS OOR KERSTYD: NUUSBRIEF – DESEMBER 2013

In hierdie nuusbrief gesels ek oor gesondheid oor die algemeen vir die ondersteuner en ook vir die Bipolêre lyer en ek praat ook oor hierdie tyd van die jaar wat nie altyd maklik is vir depressie lyers en hul gesinne nie.

Voel dit ook vir jou of hierdie jaar net te vinnig verby gegaan het! Is jy uitgeput deur al die uitdagings wat oor jou pad gekom het? Of het jy nog lewenslus en krag vir die laaste week of twee wat oor is?

Ek het die afgelope tyd net weer besef dat ‘n mens se gesondheid so ‘n groot gawe is, en dat ‘n mens alles in jou vermoё moet doen om gesond te bly. Daar is sekere goed waaroor ons nie beheer het nie, maar daar is verseker baie waaraan ons iets kan doen.

Hoe gaan dit met jou eie gesondheid?

Klink die vraag snaaks? Is jy nie gewoond dat mense dit vir jou vra nie? Gaan die vraag oor gesondheid gewoonlik oor jou Bipolêre geliefde se welstand?

Die feit van die saak is, jy kan nie ‘n goeie ondersteuner wees, as jy nie ook gesond is nie, emosioneel en fisies.

In hierdie nuusbrief wil ek fokus op die ondersteuner se gesondheid en welstand. Dit is dalk ‘n goeie tyd van die jaar om te reflekteer en ‘n paar besluite te neem vir die pad vorentoe.

Hoe het die lewe jou die afgelope jaar behandel? Hoe het jou geliefde se siekte vir jou en vir hom of haar beïnvloed of geraak die afgelope jaar? En ja, hoe het die Bipolêre Gemoedsversteuring in jou lewe as ondersteuner jou gesondheid beïnvloed?

Daar is baie dinge wat mens se gesondheid kan beïnvloed. Hoe kan iemand anders se siekte jou eie gesondheid dan negatief raak?

Wanneer iemand baie na aan jou, ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring, het dit verseker ‘n invloed op jou eie gemoed en welstand. Wanneer jy aanhoudend blootgestel word aan ergere spanning, dalk as gevolg van ‘n lewensmaat of kind wat deur ‘n maniese fase gaan, of wat erg depressief is, is dit nie maklik om positief en stresvry te wees nie. Of dalk is dit maar deur die gewone loop van die lewe dat die klein OP en AF wat ook voorkom in die siekte, sy tol begin eis.

Ons almal weet dat spanning baie negatief kan inwerk op ‘n mens se gesondheid. Om maar net ‘n paar dinge te noem: spanning kan spysverteringsprobleme veroorsaak, ‘n maag wat brand… Jou maat se siekte kan by jou emosionele seer veroorsaak, wat jy dalk met ‘n lekkerny getroos kry vir ‘n klein rukkie en voor jy jou kon kry sit jy met ekstra kilogramme wat weer op hulle beurt allerhande gesondheidsnadele inhou.

Ons weet dit is belangrik, nee, dit behoort prioriteit in jou lewe te wees om te verseker dat jou Bipolêre geliefde se gesondheid voorrang kry in jul lewens, bo enige iets anders. Want gesonheid is gelyk aan: vrede, vreugde, gemoedsrus, goeie verhoudings, mooi herinneringe en baie ander positiewe dinge in jul lewens. Alles wat in siekte tye bedreig en aangeval word deur die siekte in jul lewens. Maar laat die fokus vir ‘n rukkie val op jou, die ondersteuner se gesondheid.

Wat kan jy doen om ‘n gesonder lewe te ly?

  • Probeer spanning tot die minimum te beperk.
  • Maak tyd vir jouself.
  • Doen oefening. Gaan stap gereeld. ‘n Mens onderskat die waarde van stap. Dit is goed vir die liggaam en gees. Jy kan dit saam met jou geliefde doen of saam met iemand anders, ‘n vriendin, ‘n kind. Dalk is daar ‘n parkie in jul omgewing waar dit meer veilig is, waar ander mense ook uitspan.
  • Pas jou eetgewoontes aan. Jy en jou Bipolêre maat kan daarby baat. In ‘n volgende nuusbrief sal ons gesels oor goeie voedselkeuses, wat nie net positiewe gevolge kan hê op gesondheid oor die algemeen nie, maar ook op die brein en die gemoed.

Wat het die afgelope jaar of jare jou gesondheid negatief beïnvloed?

 

  • Wat gaan jy anders doen in jou lewe om gesonder te wees, sodat jy ook op die lange duur ‘n beter ondersteuner kan wees?
  • Wat kan jy doen om spanning tot die minimum te beperk?
  • Wat kan jy doen wanneer jy wel spanning ervaar om die effek daarvan te beperk?
  • Wat kan jy doen om bietjie alleen tyd te hê?
  • Hoe kan jy jouself beter toerus en voorberei vir wanneer slegte dinge of siek tye gaan kop uitsteek?

 

VIR DIE PERSOON WAT HIERDIE NUUSBRIEF LEES, WAT SELF LY AAN BIPOLÊRE GEMOEDSVERSTEURING ‘N PAAR GEDAGTES:

  • Kan jy dalk hierdie nuusbrief deurgee aan jou eie ondersteuners?
  • Kyk ook na jou eie gesondheid in die lig van die inhoud van die nuusbrief. Hoe het die siekte jou fisiese gesondheid die afgelope ruk geraak?
  • Vra jouself ook die vrae hierbo af en kyk wat jy anders kan doen om jou gemoed en gesondheid ‘n hupstoot te gee.
  • Ervaar jy dalk ‘n moegheid wat jy nie kan verklaar nie?
  • Is daar dinge wat jy nie voor kans sien om te doen nie, wat iemand anders van jou ouderdom maklik sal kan aanpak?
  • Is jy soms nie lus om te eet nie? Dit kan dalk die siekte wees wat dit in jou veroorsaak. Dit beïnvloed nie net jou eetlus nie, maar ook jou algemene gevoel en gedagtes oor kos. Laat weet my of dit met jou dalk die geval is, dan kan ons ‘n nuusbrief dalk aan so ‘n onderwerp toewy.
  • Besef weereens dat jou gesondheid, as persoon wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring, prioriteit in jou lewe moet wees. Wanneer jy gesond is, put jou hele gesin vreugde daaruit. Jou welstand raak almal in jou gesin positief.
  • Bespreek die punte met jou dokter/psigiater.

 

HET JY AL VERANTWOORDELIKHEID GENEEM VIR JOU EIE WELSTAND?

WAT IS DAAR WAT JY KAN DOEN OM GESONDER TE LEEF?

  • Kyk na jou eetgewoontes.
  • Kyk na jou fisiese aktiwiteite, soos oefening wat baie goed is vir algemene gesondheid en jou gemoed.
  • Wees besig met dinge waarvan jy hou. Is daar ‘n stokperdjie, musiekinstrument of aktiwiteit waaraan jy lanklaas aandag gegee het en wat eitlik vir jou baie vreugde verskaf?
  • Besef die waarde van jou medikasie en probeer vrede maak daarmee.
  • Spandeer tyd in die natuur of saam met ‘n troeteldier.

 

Laat weet my asseblief as ondersteuner of Bipolêre lyer watter wenke en raad jul nog kan byvoeg by die punte in die nuusbrief genoem om ons almal se gesondheid te verbeter.

Ek hoor graag van julle, stuur gerus ‘n epos na info@bipolereondersteuning.co.za

 

‘n Laaste woordjie oor die feestyd wat voorlê:

Vir baie mense wat ly aan depressie en Bipolêre Gemoedsversteuring, is hierdie tyd van die jaar regtig ‘n slegte tyd. Vol winkelsentrums met die gedruis van mense kan dalk sleg negatief inwerk op so iemand. Kersdag en nuwejaarsdag kan ook ‘n slegte ervaring wees.

Probeer om dit wat negatief op jou of jou geliefde inwerk te vermy in hierdie tyd. Dinge soos:

  • Baie mense in winkelsentrums of ander openbare plekke.
  • Intense gesprekke met familie of vriende oor dinge wat jou ontstel soos geld, werk, materialisme of wat ookal vir jou as Bipolêre lyer ‘n sensitiewe onderwerp mag wees.
  • Vermy die versoeking van alkohol in hierdie tyd. Baie mense wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring het al hul sorge/siekte probeer verdrink in alkohol en dit maak dinge net erger.

Dink ‘n bietjie na oor wat vir jou as Bipolêre lyer of ondersteuner veral sleg is in hierdie tyd van die jaar en praat daaroor met jou geliefdes en bedink ‘n plan om dit te probeer vermy en eerder te fokus op dinge wat vir julle almal vreugde kan verskaf.

Ek wens vir elkeen ‘n rustige Desember 2013 toe en ‘n vreedsame begin van Januarie 2014.

Laat weet ook asseblief as daar spesifieke onderwerpe is waaroor ons in die toekoms kan gesels in die nuusbrief by info@bipolereondersteuning.co.za.

Jy is welkom om hierdie nuusbrief in sy geheel en onveranderd aan te stuur aan vriende of familie. Nooi hulle ook uit om self in te teken vir toekomstige nuusbriewe by www.bipolereondersteuning.co.za, kliek op die NUUSBRIEF bladsy en volg die skakel en voltooi die nodige inligting daar.

Groete, tot ‘n volgende keer!