KEN JY JOUSELF? – JUNIE 2015

KEN JY JOUSELF?

Ek wil nie sommer net ‘n nuusbrief stuur omdat dit weer tyd daarvoor is nie. Die inhoud van so ‘n nuusbrief moet tog bietjie iets om die lyf hê en waarde vir die lesers kan bied. Daarom dat ek deesdae worstel met “wat gaan in die volgende nuusbrief staan?” My eie gedagtes is baie bedrywig omdat ek vir die afgelope 3 maande my eie besigheid van die huis af bedryf. My “te doen lysie” is baie lank en een van die take daarop is om inligting in te samel vir die volgende nuusbrief…

So gebeur dit toe vandag dat ek inspirasie vanuit die niet kry. Hier sit ek voor die rekenaar besig met werk en waar sou die inspirasie dan nou so skielik vandaan kom?

Laat ek jou vertel, dit kom van my man wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring. Ek is so trots op hom omdat hy homself en sy siekte al so goed leer ken het, dat hy weet wanneer daar rooi ligte flikker.

Baie ironies, of sal ek eerder sê, interessant, dat die tema van hierdie nuusbrief ook die titel van een van sy liedjies is wat hy lank reeds van te vore geskryf het: “Ken jy jouself?”

Ek wil die tema deur trek na die ondersteuner en ook na die persoon wat self ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring.

So wat vir ‘n vraag is dit nou die “Ken jy jouself?” Ek leef dan elke dag saam met myself en weet wat in my eie gedagtes aangaan. Ek weet waarvan ek hou en waarvan ek nie hou nie.

Alles goed en wel, maar maak jy soms tyd net vir jouself? As ondersteuner van iemand wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring is dit baie goed om jouself goed te ken. Jy moet weet waar lê jou eie beperkinge en wat jy nodig het om sterk te kan staan vir die res van jou gesin. In baie gevalle is dit iemand soos jy, die ondersteuner en lewensmaat van ‘n Bipolêre lyer, wat alles vir almal moet wees en as dit met jou sleg gaan, voel almal dit. Dus is dit prioriteit dat jy na jouself omsien, sodat jy ook na ander kan omsien.

Soms is dit nie in jou hande om heeltemal na jouself om te sien nie, want jou geliefde wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring se algehele welsyn bepaal ook hoe dit met jou gaan. As jou geliefde nog nie verantwoordelikheid geneem het vir sy/haar eie welsyn nie, beinvloed dit jou ook erg negatief.

Daarom dat ek ook in die nuusbrief wil uitkom by die persoon wat self ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring. Ken jy jousef? Weet jy wie jy is?Het jy al gaan neerskryf watter dinge negatief inwerk op jou, dinge wat jou gemoed sleg beïnvloed? Vir elkeen is dit anders. Daar is nie ‘n lys wat ek kan voorhou en sê die volgende goed is dinge wat mense wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring moet vermy nie. Nee, elke persoon is so uniek en wonderlik geskape, ja fyn besnaard, dat jy jou eie lys sal moet maak wat net op jou van toepassing is.

Weet jy watter tye van die jaar beter en watter slegter is vir jou en jou gemoed? Weet jy watter dinge wat jyself doen, vir jou ‘n aanduiding kan gee dat jy stadig maar seker besig is om siek te raak? Vir een persoon is dit tekens wat dui dat ‘n ergere depressie oppad is. Vir ‘n ander is dit tekens dat ‘n maniese aanval dreig. Ek noem dit doelbewus ‘n manies “aanval”, want dit is hoe ek dit beleef het toe my man siek geword het.

Dit is wonderlik en baie goed as jy mense om jou het wat kan help om hierdie tekens raak te sien. Maar dit is soveel beter as jy dit self kan raaksien.

En dit is wat vandag weer hier by ons gebeur het. Self het my man ingekom van buite en gesê dat hy té aan die gang is met verskillende projekte en dinge en dat hy dit rustiger sal moet vat. Hy drink medikasie in die aand om juis ‘n beter en dieper slaappatroon aan te help en die afgelope tyd, met die dat die seisoen weer besig is om te draai, is die slaap ook nie so diep en aaneen soos wat nodig is nie.
Bespreek dit met jou dokter of psigiater as dit moet, maar jou slaappatroon is bitter belangrik. Dalk kan die dosis van sekere medikasie wat jy neem vir ‘n rukkie verhoog word net om jou te help met hierdie oorgang na warmer of kouer weer. Vind jy dit ook dat die seisoensverandering jou beinvloed?

Nou ja, en so kan ek nog ‘n paar goed noem waarvan hy bewus geword het en wat eintlik klein rooi liggies is, wat, as mens nie NOU daarna kyk en iets daaraan doen nie, dit later hande kan uitruk. Glo vir my, daarvoor sien ons nie kans nie.

Het jy as Bipolêre lyer al op die plek gekom waar jy als in jou vermoë wil doen om te vermy dat jy weer siek word? Of gee jy nie regtig om nie. Ek weet dit is nie so eenvoudig nie, want soms doen jy alles in jou vermoë om te keer dat jy weer siek word, en tog gebeur dit soms. Dit is belangrik om verantwoordelikheid vir jouself te neem en daarom so nodig dat jy jouself ken. Jy kan rooi ligte begin raaksien as jy weet waarna om te kyk.

KLIP IN DIE BOS

  • Is dit so, dat wanneer die ondersteuner hom of haarself goed ken, dit dinge kan beter maak in die lewe saam met ‘n geliefde wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring?
  • Is dit so, dat jy as Bipolêre lyer jouself baie kan help deur jouself en jou siekte beter te leer ken?

Ek sou graag van jul wou hoor hieroor.

Gesels gerus saam op ons Facebook bladsy, of stuur ‘n epos na info@bipolereondersteuning.co.za

POSITIEWE GEDAGTE

Hy wat tyd maak vir homself, sy eie gedagtes, veral in die gejaagde lewe van vandag, sal die vrugte daarvan pluk.

Gesels gerus saam op ons Facebook bladsy.

Laat weet ook asseblief as daar spesifieke onderwerpe is waaroor ons in die toekoms kan gesels in die Nuusbrief by info@bipolereondersteuning.co.za.

Jy is welkom om hierdie Nuusbrief in sy geheel en onveranderd aan te stuur na vriende of familie. Jy kan dit selfs vir hulle uitdruk. Nooi hulle ook uit om self in te teken vir toekomstige nuusbriewe by www.bipolereondersteuning.co.za, kliek op die NUUSBRIEF bladsy en volg die skakel en voltooi die nodige inligting daar.

Lees ook gerus die vorige Nuusbriewe op die webwerf by http://www.bipolereondersteuning.co.za/nuusbrief-argiewe/

Ken jouself!
Groete, tot ‘n volgende keer!