ONDERSTEUNING: NUUSBRIEF – OKTOBER 2013

Baie welkom by die EERSTE nuusbrief vanaf die webwerf www.bipolereondersteuning.co.za.

Dankie dat jy ingeteken het op die webwerf, Facebook bladsy (https://www.facebook.com/BipolereOndersteuning ) of ‘n e-pos gestuur het om die nuusbrief te ontvang. Dalk het ek jou naam self bygevoeg omdat ek jou ken, hoop nie jy gee om nie.

Ek skryf uit die oogpunt van iemand wat ‘n ondersteuner en eggenoot is van iemand wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring.

Nadat ek self, as ondersteuner, deur drie maniese fases saam met my man is, weet ek hoe dit voel om NIEMAND te hê om mee te praat nie.

Wàt ‘n las het van my skouers afgeval, toe ek die een dag genoeg moed bymekaar geskraap het om my vriendin te vertel dat my man aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly… Ek het nie geweet hoe sy gaan reageer nie. Genadiglik het sy nie haar rug op my gedraai nie. Tot op daardie stadium, het ek dit vir niemand vertel nie, en het baie swaar aan hierdie las gedra.

Ek weet hoe dit voel om nie ‘n mediese fonds te hê nie en nie weet waarheen om met jou maniese eggenoot te gaan nie. Om self min te slaap wanneer jou geliefde in middernagtelike ure die strate ingevaar het en om met baie bekommernisse my dae by die werk deur te worstel.

Ek werk nou al lank aan die hele ondersteunings idee, wat vorm begin aanneem het op die werbwerf. Ek ontvang ook e-posse van mense wat ‘n oor nodig het of soms bietjie raad soek by iemand wat darm ‘n idee het waarvan hul praat. Ek is nie ‘n mediese dokter, sielkundige of psigiater nie, maar ek het ‘n oor wat kan luister en kan maar net deel wat ek uit eie ondervinding geleer het.

Die doel van die webwerf is om vir ondersteuners van Bipolêre geliefdes hoop te gee en die wete dat daar nog mense is wat ietsie verstaan van waardeur hulle gaan. Die Facebook blad het voortgespruit vanuit die webwerf en ons ledetal staan tans op 98! Met die nuusbrief beoog ek om verdere ondersteuning te bied aan ondersteuners en elke maand ‘n onderwerp aan te raak. Met die nuusbrief wil ek ook graag ‘n gesprek aan die gang kry en sake aanspreek wat die lesers aandui as behoefte.

Daar is wel ook mense wat ingeteken het op die nuusbrief, wat self ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring en ek hoop van harte dat julle ook waarde sal put daaruit.

Die tema vir ons splinternuwe eerste nuusbrief is: ONDERSTEUNING

Ons almal voel soms dat ons nie ander mense nodig het nie, veral as ons seergemaak voel… Maar kom ons wees eerlik, ondersteuning van ander mense is geweldig belangrik in enige aspek van die lewe. Iemand verstaan, of iemand probeer ten minste verstaan, iemand dink aan jou en wonder hoe dit met jou gaan, iemand reik uit na jou en is jou vriendelik gesind, iemand waardeer jou. Ons kan sonder al hierdie dinge funksioneer, maar as dit daar is, maak dit ‘n groot verskil in ons lewens.

Dit is my ondervinding dat vriende langs die pad minder raak in die lewe van sommige Bipolêre lyers. Dalk het jy ‘n ander siening hieroor? Dit is my gevoel dat lyers van hierdie siekte meer fynbesnaard is as ons ander en dit maak juis SO seer as mense hul rug op jou draai en jy het ‘n sterk vermoede dat dit die siekte is wat hul eerder laat kies om nie iets met jou te doen te hê nie…

Ondersteun die Bipolêre lyer:

Dis vir ons almal lekker om te weet daar is mense wat agter ons staan, maar my fokus val vandag op iemand wat ondersteuning nodig het wanneer ‘n siekte sy gemoed en optrede beïnvloed. Iemand wat aan Bipolêre Gemoedsversteuring ly, kan doen met mense in hul lewens wat weet wat die siekte behels. Dit is baie moeilik om vrede te maak met die siekte en ek vind dat baie mense wat daarmee gediagnoseer is, aan ‘n soort ontkenning ly (wat verstaanbaar is). Elke mens se pad is anders, maar dit is goed as iemand meer uitvind oor sy eie siekte en weet hoe die siekte hul lewens beïnvloed. Daarom dan dat ‘n ondersteuner ook ingelig moet wees oor die siekte. Al is jou geliefde dalk nog nie op die plek om meer te wil weet van sy of haar siekte nie, kan jy solank meer leer daaroor en jou geliefde beter verstaan en ondersteun.

Die wêreld vind dit moeilik om ‘n onderskeid te tref tussen die gawe oulike persoon wat hulle leer ken het, en die persoon wat soms net die naby mense (ondersteuners) leer ken, en as jy as ondersteuner hulle dan vertel en inlaat in jou wêreld, gaan hulle nie meer van jou geliefde hou nie en jou in die toekoms vreemd aankyk. So dit is makliker om dit vir jouself te hou, jy wil in elk geval nie jou geliefde met ander bespreek nie en jy wil ook nie jul vertrouingsverhouding skend nie. En so worstel jy en word jou las elke dag net swaarder. Dit is nie nodig om dit vir almal te vertel nie, maar kies jou ondersteuners fyn en noukeurig.

Soos vele ander siektes wat veral een orgaan aantas, tas hierdie persoon se siekte sy brein se funksies aan en dit beinvloed die persoon se gedrag, emosies, gevoelens en denke, en soms ook sy persoonlikheid.

Daar is ‘n stigma wat kleef aan geestesgesondheidsiektes, want mense verstaan dit nie. En hoekom sal ons probeer verstaan as die siekte ons nie naby aan ons eie lyf raak nie? En soms voel dit net vir ons te ingewikkeld om te probeer verstaan hoe iemand dan so vreemd en teen sy aard kan optree… of is die persoon net altyd skuins…

Omdat ‘n lyer van Bipolêre Gemoedsversteuring (ook genoem maniese depressie) se gemoed en emosies nie aldag ewe stabiel is nie, het hul juis die ondersteuning van geliefdes nodig, maar dit is juis ook moeilik om so iemand te ondersteun want hy of sy gaan nie altyd so positief op jou ondersteuning reageer as wat jy verwag het nie. Dit hang ook natuurlik af waar die persoon hom of haar bevind (gestabiliseerd, manies of depressief, of te midde van ‘n skommeling van emosies) en ook of hul in ‘n mate al vrede gemaak het dat hul aan die siekte ly of nie.

Ondersteuning aan die ondersteuner:

Daarom dan dat ek ‘n webwerf daar gestel het wat fokus op die persoon wat die siek persoon moet ondersteun. So ‘n ondersteuner het self baie ondersteuning nodig. Jy voel uitgeput, moedeloos, verward, alleen en daar is niemand met wie jy kan praat nie, want mense sal jou snaaks aankyk (en hul het ook al) omdat hulle nie verstaan wat ‘n geestessiekte is nie.

Hul sal eerder grappies maak oor Alzheimers, Skitsofrenie en hospitaliseringsinstansies vir hierdie pasiënte, as om uit te vind wat dit werklik is, totdat hulself eendag op ‘n reëndag agterkom dat hulle en hul gesinne en vriende nie immuun is teen so ‘n siekte nie, dan het die wiel gedraai…

Kom ons kyk opnuut na ons rol as ondersteuner:

  • Het ek genoeg kennis oor Bipolêre Gemoedsversteuring?
  • Kan ek dinge in my geliefde se lewe identifieseer wat defnitief die gevolg is van die siekte?
  • Noudat ek besef dit is die gevolg van die siekte, gaan ek dalk anders optree in die toekoms in sekere situasies?
  • Hoe kan ek pro-aktief optree en nie elke keer die stukkies van my hart van die vloer af optel nie?
  • Het ek ‘n ondersteuningsnetwerk vir myself?

Laat weet my wat jou ondervinding is oor vriende in die lewe van iemand wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring. Is daar mense wat verdwyn langs die pad of is daar ingeligte vriende wat vasbyt en kontak hou?

Stuur gerus ‘n e-pos aan info@bipolereondersteuning.co.za.

Laat weet ook asseblief as daar spesifieke onderwerpe is waaroor ons in die toekoms kan gesels in die nuusbrief by dieselfde e-pos adres.

Jy is welkom om hierdie nuusbrief in sy totaal en onveranderd aan te stuur aan vriende of familie. Nooi hulle ook uit om self in te teken vir toekomstige nuusbriewe by www.bipolereondersteuning.co.za, kliek op die NUUSBRIEF bladsy en volg die skakel en voltooi die nodige inligting daar.

Groete, tot volgende maand!