ONINGELIGTE MENSE: NUUSBRIEF – FEBRUARIE 2014

Kan jy glo ons is al in die middel van Februarie! Hoop dat jul ingaan in die nuwe jaar kalm en rustig was. Vir die van ons wat ‘n stormagtige tyd agter die rug het, hoop ek dat soos wat die jaar vorder, dit ook beter sal gaan.
In hierdie maand se Nuusbrief wil ek gesels oor die hantering van oningeligte mense rondom ons.

Ons het onlangs ‘n vreemde ondervinding gehad toe my man wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring vir sy jaarlikse bloedtoeste moes gaan om onder andere die Lithium vlakke en lewerfunksies te toets.

Die suster wat die bloed getrek het, het ‘n paar onvanpaste opmerkings gemaak wat my man nogal ontstel het. Ek besef dat sy nie aspris was of daarop uit was om onsensitief te wees nie, maar eerder dat sy onkundig is oor die siekte en sonder dat sy dit besef het, onsensitief was.

Sy het gevra waarvoor hy al hierdie baie medikasie gebruik, waarop ons antwoord was: “vir Bipolêre Gemoedsversteuring”.  Waarop sy toe sê: “Bipolêre WAT?”

Toe sê sy: “O, so is jy die een dag bietjie op en die volgende dag weer bietjie af”

Sy moes iewers gehoor het dat daar ‘n OP en ‘n AF is in die siekte, maar duidelik het sy nie ‘n idee waaroor dit gaan en hoe gekompliseerd hierdie siekte is nie. Dit is nie so eenvoudig van “bietjie op en bietjie af nie”. Ek het haar toe reggehelp en gesê dat dit nou nie eintlik is hoe dit werk nie.

Sy sê toe ook dat “Almal in die land deesdae medikasie nodig het vir Bipolêre Gemoedsversteuring”.

Hierop het ek haar verduidelik dat die siekte veroorsaak word deur ‘n chemiese wanbalans in die brein en dat jou omstandighede om jou, nie die siekte veroorsaak nie. Dit het ‘n mediese oorsaak. Dit is nie depressie wat veroorsaak word deur dinge om jou nie, maar dit kom van binne jou liggaam self.

En toe ons oppad uit is, sê sy: “Drink maar jou pilletjies, dan voel jy beter meneer”.

Die beste manier om sulke opmerkings te hanteer, is maar om diep asem te haal en kalm te bly. Maar ek bly nie meer stil nie, ek dink dit is ons plig as ondersteuners om ander mense bewus te maak van wat Bipolêre Gemoedsversteuring is, of ten minste hul reg te help waar hulle die kat heeltemal aan die stert beet het.

Sulke opmerkings, moet ons as ondersteuners, nie persoonlik opneem nie, en probeer om die persoon in te lig van die feite. Dit is nie altyd maklik nie. Daar is soms ook mense daar buite wat harde harte het en nie iets wil hoor van simpatie hê en probeer vertstaan nie. As hulle die woord “depressie” hoor, raak hul afgestomp en stel nie belang om meer daaroor te hoor nie. Nou ja, met hulle, mors mens nou ook nie jou asem nie.

Wat wel belangrik is, is om met ons Bipolêre geliefdes hieroor te praat, want dit kan hul soms baie ontstel dat ons medemens daar buite, die tipe opmerkings maak soos hierbo genoem. Dan moet ons probeer om hul te help om perspektief op die saak te kry: dat kennis, mag is, en omdat mense nie oor ‘n onderwerp ingelig is nie, hul sê wat hul sê en optree soos wat hul doen.

Dit bly maar moeilik, want dit bly nie net by vreemdelinge daar ver nie. En dit hoef nie altyd uitgesproke woorde te wees nie. Soms is dit gedrag of die gebrek aan optrede van mense nader aan jou, wat jou dwars in die krop steek.

Hulle moes darm van beter geweet het. Hulle kon dalk kontak gehou het. Kon hulle nie dalk bietjie omgegee het nie? Dalk gee hulle om, maar weet nie hoe om dit te wys nie…

Die feit van die saak is, dat dit vir iemand wat buite die direkte kring van die Bipolêre lyer staan, baie moeilik is om te probeer verstaan. Dit is ook vir hulle moeilik om te weet hoe om op te tree en gewoonlik doen hulle dan eerder niks nie.

Dit is amper net soos wanneer iemand ‘n geliefde aan die dood afstaan en die mense om jou gaan maar aan asof niks in jou lewe gebeur het nie. Mense bel nie en vra hoe dit nou met jou gaan na die afsterwe van jou geliefde nie, want dit is vir hulle moeilik en hul weet nie regtig wat om vir jou te sê nie. Wanneer hulle jou raakloop, vra hul nie hoe dit nou met jou gaan nie – hulle vermy die onderwerp en voel ongemaklik in jou teenwoordigheid.

En so gaan dit ook met vriende en kennisse van ‘n Bipolêre lyer. Hulle bly eerder weg, as om kontak met jou te hou, want hulle voel ongemaklik met jou siekte. Hulle weet nie of hulle daaroor moet praat nie en hulle weet ook nie as hulle nou nie daaroor praat nie, hoe hulle moet optree nie. Dus is die maklike uitweg om net kontak te verbreek en weg te bly.

Ons moet hulle seker reghelp en sê dat om kontak te hou en net jouself te wees maar die beste uitweg is. Opregte belangstelling en omgee is wat ons Bipolêre vriende nodig het, ook maar soos die res van ons.

Mens hoef nie altyd oor die siekte te praat nie. En ‘n mens kan soms vra hoe dit gaan met die persoon se gesondheid.

Het jy as ondersteuner of as Bipolêre lyer jou al in soortgelyke situasies bevind waar jy te doen gekry het met iemand wat opmerkings maak as gevolg van onkunde?

  • Laat weet my hoe dit jou laat voel het en hoe jy opgetree het.

 

  • Wat sou jou voorstel wees van hoe om oningeligte mense te hanteer?

 

  • Hoe sou jy vriende en kennisse wou inlig oor hoe hulle teenoor jou moet optree?

Gesels gerus saam op ons Facebook bladsy.

Laat weet ook asseblief as daar spesifieke onderwerpe is waaroor ons in die toekoms kan gesels in die Nuusbrief by info@bipolereondersteuning.co.za.

Jy is welkom om hierdie Nuusbrief in sy geheel en onveranderd aan te stuur aan vriende of familie. Jy kan dit selfs vir hulle uitdruk. Nooi hulle ook uit om self in te teken vir toekomstige nuusbriewe by www.bipolereondersteuning.co.za, kliek op die NUUSBRIEF bladsy en volg die skakel en voltooi die nodige inligting daar.

Lees ook gerus die vorige Nuusbriewe op die webwerf.

Groete, tot ‘n volgende keer!