UIT DIE OOGPUNT VAN N BIPOLêRE LYER – JULIE 2014

Baie welkom aan nuwe intekenare!

Na ‘n ruk van stilte begin ons die nuwe fase van nuusbriewe met gedagtes uit die pen van iemand wat self ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring. Dalk beteken hierdie woorde iets vir ‘n ondersteuner of vir ‘n ander Bipolêre lyer. Dalk verstaan die leser hierna ietsie van hoe iemand sy eie siekte ervaar en probeer fokus op dinge wat die lewe vir jou mooi en interessant kan maak, ja, selfs dinge wat jou kan help gesond hou…

“Agter my eie tralies

Ek was sestien jaar oud toe dit vir my gevoel het of daar tralies rondom my gesit is. Min het ek geweet dat dit lewenslank my lot sou wees om nie meer vry te kan beweeg in die lewe nie. Die tralies om my was en is steeds nie sigbaar vir die mense wat na my kyk nie. Die tralies is die siekte wat ek moet saamdra vir die res van my lewe.

Daar was tye wat dit gevoel het asof die siekte om en in my, my wou versmoor. Dit het gevoel asof niemand verstaan waardeur ek gaan nie. Ek het min simpatie gekry van hulle wat daar buite is, van hulle wat vry is.

As die siekte in jou kop is, verstaan die gesonde mense dit nie. (Niemand kan die siekte sien nie).

Om te ontsnap van die onsigbare tralies was en is vir my moontlik met musiek as die sleutel.

Die vermoё om te kan komponeer en ‘n verskeidenheid van musiekinstrumente te kan speel asook die ontwerp en bou van my eie musiekinstrumente het die ontsnapping al makliker en makliker gemaak. Dit is asof ek gesonder voel wanneer ek met musiek in aanraking kom.

Met die jare het my gehoor baie verbeter. Ek kan ‘n wysie een keer hoor en daarna op die viool speel. Ek was elf jaar oud toe ek my eerste kitaar as ‘n verjaarsdaggeskenk gekry het. Ek moes myself leer kitaar speel uit boeke. Dit het stadig gegaan maar ek het vadertyd se geduld gehad.

In 1994 het ek formeel begin kitaarles neem. ‘n Ander wêreld het vir my oopgegaan. In 1996 het ek begin kitaarlesse gee en dit het gemaak dat ek die kitaar nog meer verstaan het. Of mens ooit regtig ‘n musiekinstrument volledig kan bemeester, glo ek nie.

Om musiek te maak kan jou siekte nie gesond maak nie maar die tralies om jou kan so gebuig word dat jy amper voel jy is vry. Of ek sing of self op ‘n instrument speel, of net na musiek luister, dit alles is miskien die grootste medisyne. Jy kyk weg en sien nie meer die tralies rondom jou nie. Jy voel jy beteken weer iets al hoor niemand jou nie.

Moet nooit vergeet dat die Here altyd ‘n oor het vir jou nie. Hy sal jou dra solank jy lewe. So lank jy agter jou tralies is.

Musiek laat my goed voel. Dis asof my brein weer funksioneer soos wat hy moet. As jy nie kan musiek maak of sing nie, neurie ‘n wysie of “la-la-la” saam met ‘n liedjie wat oor die radio of op ‘n CD speel. As jy dit ook moeilik vind, probeer ritme saam hou met wat jy hoor in die musiek. Ek dink die meeste mense kan op ‘n manier ritme hou. Ek het twee tromstokkies waarmee ek op ‘n kussinkie slaan wanneer ek musiek luister. Dit maak dat jy betrokke voel by die musiek wat speel. Hou tyd met jou voet, klap liggies hande, klap jou vingers, tik met jou vingers op ‘n tafel maar raak betrokke by die musiek.

Luister baie fyn na die woorde van ‘n liedjie. Luister na die rym en die woorde. Luister na die tromme se ritme.

Wanneer jy alleen is en as jy regtig wil, probeer alleen saam met musiek/’n liedjie te dans. Niemand sien jou mos nie, so gee dit jou ‘n kans. Daarna voel mens regtig goed.

Die siekte wat jy het, moet jy nie probeer verstaan nie. Ek wonder wie verstaan dit regtig.

Aanvaar dat jy dit gekry het en probeer om minder en minder die tralies om jou raak te sien.

Die Here gee jou krag vir net een dag op ‘n slag. Vir môre kry jy eers môre krag.

Vir geen mens is die siekte maklik nie. Kry vir jou iets om mee te ontsnap al is dit net ‘n rukkie. Lees, begin verf, leer ‘n musiekinstrument bespeel. Moenie sit en niks doen nie. Doen iets met jou hande, teken, ontwerp iets, doen naaldwerk of houtwerk, probeer ‘n nuwe resep. Wanneer mens besig bly kry die gedagtes in jou kop nie kans om met jou woer-woer te speel nie.

Ek ontsnap daagliks uit my tralies met musiek in alle aspekte.

Selfs as ek uit die Bybel lees, maak ek saggies musiek op ’n Kalimba (Thumb piano). Dit lyk soos ‘n Boesman instrument).

Die traliesiekte kan veroorsaak dat jy meer tyd vir jouself kan hê as wat iemand het wat voldag moet werk. Jy mag meer tyd aan jouself bestee, jy hoef nie skuldig te voel dat jy nie is soos hulle wat nie tralies om hulle het nie. Moenie vergeet om gereeld met die Here te gesels nie. Mens voel gewoonlik goed nadat jy dit gedoen het.

Probeer om gereeld in die natuur of jou eie tuin te kom. Stel jou sintuie oop vir beter waarneming. Kyk met nuwe oё na ‘n blommetjie, hoor die voёls se perfekte sang. Trek jou longe vol met vars oggendlug. Kyk of jy iets kan raaksien wat jy nog nooit gesien het nie.

As jy wil, hou ‘n joernaal aan waarin jy aantekeninge kan maak van wat vir jou spesiaal is.

Maak ook plek vir stilte, doen niks, probeer aan niks te dink nie, ontspan, rus as jy moeg voel. Lê op jou bed met toe oё.

Waardeer die mense wat vir jou omgee en wat vir jou lief is. Wees terug lief vir hulle al voel dit vir jou hulle verstaan jou nie regtig nie.

Die siekte gaan gewoonlik gepaard met die gereelde inneem van medikasie. Sê vir jou dokter of psigiater presies hoe jy voel. Sê vir hom of haar hoe die medikasie jou laat voel. Hulle het dan ‘n beter idée van hoe om jou te behandel en wanneer om veranderinge aan jou medikasie aan te bring. Onthou jy is nie die dokter nie. Medikasie is gewoonlik vir lewenslange gebruik, ja, jy sal dit moet inneem vir die res van jou lewe. Maak vrede daarmee. Dis nie ‘n skankde nie.

Onthou, al is jy tussen tralies, en jy weet nie elke dag hoe om deur die dag te kom nie: jy is spesiaal vir die Koning van die heelal, en Hy weet wat jy moet deurgaan elke dag. Dag na dag dra Hy ons.”

***

FOOTPRINTS

One night a man had a dream.

He dreamed he was walking along the beach with the LORD. Across the sky flashed scenes from his life.

For each scene, he noticed two sets of footprints in the sand; one belonging to him, and the other to the LORD.

When the last scene of his life flashed before him, he looked back at the footprints in the sand. He noticed that many times along the path of his life, there was only one set of footprints. He also noticed that it happened at the very lowest and saddest times in his life.

This really bothered him, and he questioned the LORD about it: “LORD, You said that once I decided to follow You, You’d walk with me all the way. But I have noticed that during the most troublesome times in my life, there is only one set of footprints. I don’t understand why when I needed You most, You would leave me. “

The LORD replied: “My son, my precious child. I love you, and I would never leave you. During your times of trial and suffering, when you see only one set of footprints,
it was then that I carried you, it was then that I carried you, it was then that I carried you.”

****

Laat weet asseblief hoe jy hierdie stuk ervaar het. Sou jy dalk ook jou eie gedagtes met die lesers van die nuusbrief wou deel? Gesels gerus saam op ons Facebook bladsy of stuur ‘n e-pos na info@bipolereondersteuning.co.za .

As daar spesifieke onderwerpe is waaroor jy sou wou lees, laat weet asseblief ook by die e-pos adres hier bo gemeld.