BIPOLÊR?

IN KORT: WAT IS BIPOLÊRE GEMOEDSVERSTEURING OF DAN BIPOLÊRE DEPRESSIE?

Bipolêre Gemoedsversteuring is ’n chemiese wanbalans in die brein. Dit staan ook beken as Maniese Depressie.

Toe ek in die verlede die woord “Maniese Depressie” gehoor het, het ek verstaan dat dit ’n baie erge vorm van depressie is. Die woord “manies” het vir my laat dink aan “ergere” of “aanhoudende” depressie. Maar dit is nie werklik wat Maniese Depressie of dan Bipolêre Gemoedsversteuring is nie.

Die woord “Bipolêr” of “Bipolar” kan as volg verstaan word:

  • “Bi” beteken twee
  • Daar is dus twee pole hier ter sprake
  • Twee uiterste pole
  • ’n OP en ’n AF
  • Manie en Depressie

Die depressie is wel die een pool, die AF. Maar daar is ’n ander pool, die OP of dan te wel die maniese fase wat baie mense nie regtig verstaan nie, of nie van weet nie.

Wat die siekte moeilik maak om te verstaan is die feit dat almal wat aan die siekte ly, dit nie noodwendig dieselfde ervaar nie. Sommige mense is meer geneig om depressief te wees terwyl ander weer meer na maniese toestande neig. Beide pole is wel een of ander tyd aanwesig, maar die een is dalk meer prominent.