Die manie

Kenmerke tydens Manie in die gedrag van die lyer:

  • Hoë energievlakke
  • Slaap min
  • Praat ontsettend baie (van die een onderwerp na die volgende sonder stop)
  • Agterdog
  • Is deel van ’n onwerklike lewe
  • Sintuie is uiters skerp
  • Is baie vriendelik en geselserig met totale vreemdelinge
  • Gee goed weg
  • Spandeer geld spandabelrig
  • Is uiters kreatief
  • Maak allerhande planne en sien kans vir baie dinge
  • Is aggressief
  • Word baie maklik “getrigger” en word ontsettend kwaad
  • Sal sleg praat van eie geliefdes teenoor vreemde mense en ’n beeld skep wat nie werklik bestaan nie
  • Vertel vir vreemdes dat hy/sy aan die siekte ly en tans siek is (normaalweg praat hul glad nie oor die siekte met buite mense nie)
  • Wil graag gaan kuier by mense (wat ook normaalweg nie die geval is nie)
  • Wil graag uitgaan na winkelsentrums waar daar baie mense en  ’n gewoel is (wat ook normaalweg nie so is nie) 

Hierdie fase van die siekte is seker wat die meeste gevrees word deur geliefdes en ondersteuners van mense wat ly aan Bipolêre Gemoedsversteuring.

Dit is tydens die maniese episode dat jou geliefde baie vreemd optree. Dit raak ondraaglik om saam met hierdie “vreemde” persoon in een huis te bly. Jy bid jou knieë deur dat dit net sal ophou, want jy kan nie meer nie. Later bid jy nie meer nie, want jy het jou geliefde aan die Here oorgegee en jy het nie meer woorde om te bid nie. Jy kan nie meer wonder waar hy/sy in die middernagtelike ure ronddwaal en wat ook al aanvang in die strate nie. Jy hoop dat hy/sy in een stuk by die huis sal opdaag, en soms wens jy dit nie… Kan die medikasie nie net inskop nie.  Jy lyk soos ’n uitgewaste lap by die werk, maar niemand weet hoekom nie. Jy gaan maar net aan, maar jou senuwees is klaar.